Vleisbeesboerderyvertakking
Waarop fokus ons hier
Westend Landgoed se fokus word hier die beste omskryf met die doelwit om groter en beter kommersiële kuddes vir die toekoms daar te stel. En die fokus is beslis geslaagd. Die ras van keuse hier is Drakensbergers. By Westend Landgoed bestaan die kudde uit sowat 3 400 wat vervangingsverse en kalwers insluit. Teelkoeie op die landgoed is sowat die helfte van die kudde, op 1 700.

Die doelwit by die vleisbeesvertakking
Die swart rasse, waarvan die Drakensberger deel is, was geskiedkundig dalk nie op die regte vlakke nie. Die uitdaging wat Westend Landgoed sedert die ontstaan daarstel, is om die swart bees op ʼn standaard te kry. Sodoende het ons begin om nuwe genetika in te kry deur ʼn tipe van basterkrag daar te stel waar gehalte bulle by telers verkry word om by hierdie doelwit uit te kom, Naamlik om dieselfde tipe bul by Westend Landgoed te teel – “Deur swartbeeste te teel wat nie terug hoef te staan vir rooibeeste in hierdie land nie. Ons wil geneties beter en beter presteer. Deur op ʼn hoë vlak met rooibeesvlakke te vergelyk.” Westend Landgoed teel ongeveer 25 bulle per jaar uit die veldbultoets en bring hulle in die teelprogram in. Hier word bulle ook baie selektief aangekoop, hoofsaaklik om genetika in te bring.
Veeartsenyprogram
Die kritiese faktor hier is dat jy kundigheid moet inkry:
Hier word kundigheid van Dr Frikkie Nel van Standerton ingeroep waar die beste program in terme van inenting, dosering, ensovoorts gevolg word. Frans Duminy van Volksrust en Hano Lombard doen saam die praktiese seleksies. Hier word pelvismetings van verse geneem en gebruik dan Frans se oordeel met speenindekse om verse te selekteer. Die Lombards roep ook die kundigheid in van Dr Hannes Dreyer, Voorsitter van SA Veldbul om veldbultoetse oor baie jare te doen. Op speenouderdom word ʼn persentasie speenkalwers volgens speenindeks uitgehaal, en koppelend met die oog-in-die-hand metode, word hulle deur die veldbultoetsprogram geneem. Dit word gedoen om metings, evaluerings en seleksies te doen.
Westend Landgoed is nie in verwerking van vleis nie
Tans is die boerdery nie betrokke by die verwerking van vleis nie.
Dus is Westend Landgoed nie assulks ʼn voerkraal nie, hoewel dit deel uitmaak van die maatskappy se toekomsplanne. Hier word uitskot koeie wel tans in voerkrale afgerond en vir ʼn spesifieke mark voorberei.
Doelwitte vir ekonomies vrugbare teelkoeie:
- Teelkoeie wat hoofsaaklik vanaf natuurlike weidings produseer
- Teelkoeie wat medium raam is, en nie oormatig (droog) bespier nie
- Teelkoeie wat elke jaar ‘n gesonde fris kalf speen
- Teelkoeie wat gras meer doeltreffend verbruik. Die meting van voeromsetverhouding sal belangrik word
- Teelkoeie wat maklik kalf om verliese te vermy
- Teelkoeie wat minder sorg of medisyne benodig
- Teelkoeie wat ‘n hoe reproduksietempo handhaaf
- Teelkoeie wat goed aanpas in hulle omgewing