Skaapboerderyvertakking
Waarmee boer ons
Westend Landgoed boer met 100% rasegte merino’s met betrekking tot beide die kudde sowel as die stoetgedeelte. Hierdie skaapboerdery is ongetwyfeld 'n uitstekende vertakking vir Westend Landgoed. Die Merino stoet word op sy eie hanteer en hier teël Westend ramme vir hulle eie stoet.

Ramme
Baie hoë standaarde word gehandhaaf met slegs ramme met bogemiddelde syfers wat kwalifiseer vir insluiting in die stoetgroep. Hierby word daar bykomend ook streng seleksie toegepas met die aankoop van nuwe ramme. Hier word met die veronderstelling gewerk dat – “Daar beter aangekoop moet word as wat reeds in die stoet is”, wat opsigself nie ʼn maklike taak is nie. Elke jaar word ongeveer vier tot agt nuwe ramme ingekoop, met spesifieke eienskappe, wat sowat 20% van die stoet behels. Van die seleksiepunte sluit in groot ramme, meerlinge, korrekte bouvorm, goeie benestand en bespiering asook balans oor die hele ram sowel as goeie medium wol.
Ooie
Met die doel om die teling suiwer te hou, word van vervangingstoetooie gebruik gemaak wat uit die stoetgroep geselekteer is. Hierdeur word die bes moontlike genetika in die kudde vas geteël en bly die genetika behoue. By die ooie kyk ons ook streng na kondisieteling en vrugbaarheid. Om seker te maak dat die kwaliteit staande bly word elke ooi afsonderlik geklas om te bepaal of die ooi aan al die eienskappe voldoen. Daar word ook prestasietoetse op alle vervangingsooie in die kudde gedoen om te bepaal of hulle die seleksieproses slag. Hier vervang die vervangingsooie alle ou en nie-produserende ooie. Ooie moet minstens een lam per jaar produseer. Hulle word uitklasseer op hulle tande en verskillende kleure oorplaatjies wat die jaargetal help aandui. Ooie loop gemiddeld sewe jaar by Westend Landgoed.
Bestuur van skape
Westend sien skape as die diere wat gestroopte lande ongetwyfeld die heel beste kan benut
Al die troppe by Westend word as twee groepe hanteer, wat op aparte tye gedek word, apart lam en ook apart geskeer word. Die groepe is ongeveer twee maande uitmekaar wat die bestuur baie vergemaklik. Verder word streng by die dosering-, inenting-, sowel as voedingsprogramme gehou.
Die skape wei vir sowat sewe maande op sowat 40% van die totale weiding. Westend sien skape as die diere wat gestroopte lande ongetwyfeld die heel beste kan benut en selfs vier maande na strooptyd nog steeds kan benut. Vir die ander maand word hulle gevoer.