"Maak nie saak wat skeefloop nie, die koeie mag net nie daarvan weet nie."
Gert Scholtz, Melkerybestuurder
“Ons het Holsteins en Jerseys. Hier word daar glad nie oor en weer gekruis nie – Ons meng die melk binne die tenk, nie binne die koei nie.”
James Sutherland, Melkerybestuurder
Die melkery by Westend Landgoed word deur Gert Scholtz en James Sutherland bestuur. Hierdie vertakking is tans die tweede grootste vertakking van Westend Landgoed en beslaan 40% van die besigheid.
Die doelwit hier is om meer produktiewe koeie te teël. Daar word derhalwe van kunsmatige inseminasie gebruik gemaak, en geen bulle is betrokke nie. Die heel beste genetika ter wêreld word gebruik en genomika word geïnkorporeer om sodoende meer effektief met insetkostes te wees. Om by die ideale koei uit te kom, werk ons op ‘n telingsprogram. Die beeste word gepunt met die doel om die negatiewe punte op te stoot met die optimale bees as doelwit. So word funksionele beeste geteël wat by ons stelsel inpas – Dit wil sê kleinraam tipe beeste om die beste balans tussen melklewerings en voerinnames te bewerkstellig.
Ons boer hier grotendeels met Holsteins. Maar ons besigheidvooruitskatting voorsien dat die behoefte aan vet groter gaan word. In 2015 is daar derhalwe ook Jerseys ingekoop. Die Jerseykudde is tans op 10% en die beplanning is dat Jerseys oor vier jaar die helfte van die kudde sal beslaan.
Aan wie lewer Westend Landgoed Melkery Meer as ‘n miljoen liter melk word per maand aan Clover gelewer.
Die melk by Westend Landgoed word direk aan Clover gelewer waar kwaliteitsontledings op ‘n daaglikse basis gedoen word. Dus moet die melk van uitstaande gehalte wees. Huidiglik word 37 500 liter per dag gelewer. Clover is vir ons die mees betroubaarste, jy is verseker van jou geld en kry ook markverwante pryse. Clover groei daarteenoor ook genoegsaam om ons groei hier by Westend Landgoed te absorbeer.